Die Burger berig dat die omstrede konsepvoorstelle oor drankverkope laatnag en op Sondae in die Stellenbosch-omgewing weer bekyk gaan word. Die nuwe DA-beheerde stadsraad van Stellenbosch sal die konsepvoorstelle wat die vorige stadsraad goedgekeur het, ernstig heroorweeg en verwelkom die insette van die gemeenskap daaroor, sê mnr. Conrad Sidego, nuutverkose burgemeester.
Sidego het gister by navraag gesê die stadsraad is baie bewus van die diepe kommer wat voorstelle dat drank nie op Sondae verkoop mag word nie in veral die toerismebedryf veroorsaak.“Ons is deeglik bewus daarvan dat ons ’n toerismedorp in die middel van die wynlande is en hierdie stadsraad sal geen besluit neem wat die dorp, sy beeld of sy inkomste sal skaad nie.
“Daar is geen rede om opgeklits te raak nie – nugtere oorweging sal aan die kwessie gegee word,” het Sidego gesê. Vrese bestaan dat talle restaurante, veral dié op landgoedere, hul deure sal moet sluit as drankverbruik in restaurante in en om Stellenbosch op Sondae verbied word.
’n Plaaslike toerismeorganisasie win trouens reeds regsadvies in oor die kwessie. So ’n “belaglikheid” sou ’n “verleentheid” vir die gebied wees en kan verreikende gevolge hê vir die ekonomie van die gewildste wyngebied van Suid-Afrika, is aan Rapport gesê oor die konsepbesluit.
Die besluit, wat voorlopig geneem is na gelang van die impak van provinsiale wetgewing, sou nie net die verkoop en bedien van wyn op Sondae in restaurante in die dorp en op landgoedere verbied het nie, maar sluit ook ’n verbod op kroeë in om saans ná 23:00 alkohol te verkoop. Die verordening kon in elk geval nie finaal deur die stadsraad aanvaar word voordat die voorgestelde provinsiale konsepwetgewing, die Wes-Kaapse Drankwysigingswetsontwerp, in werking tree nie.
Dié wetsontwerp word tans deur die provinsiale regering hersien. Die aanvaarding van ’n Stellenbosse drank-verordening, soos die vorige stadsraad voorgestel het, sal ’n verlammende invloed op die ekonomie van die gebied hê omdat wyntoerisme 25% van die bruto ekonomiese produk hier uitmaak, sê me. Annareth Bolton, uitvoerende hoof van die toerismeorganisasie Stellenbosch Wynroetes.
Van die land se toprestaurante, wat gereeld die Eat Out-wenlys haal, is in dié gebied geleë.Sondae is van die gewildste kuierdae, sê Bolton. “Dis die dag waarop sowel plaaslike as buitelandse toeriste die wyngebied die graagste besoek om sy kos en wyn te geniet. Dit maak wynplase, restaurante en wynkelders van die grootste werkverskaffers hier.”
Bolton sê Wynroetes is in gesprek met hul regsverteenwoordiger, ’n kenner op die gebied van dranklisensiëring. Volgens mnr. Beyers Truter, eienaar van die landgoed Beyerskloof buite Stellenbosch, sal dit kortsigtig wees om die voorstel van die vorige stadsraad deur te voer en sal dit die restaurant- en toerismemark hier doodmaak.
Comments